English Annual Report ►
 
Webtuistekaart ►
 
Aflaai ►
 
 
Oorsig van werksaamhede
 
   
  Betaaltelevisie
     
 
Pay television  
 
’n Jaar van intekenaargroei, loodsing van nuwe kanale, opwindende plaaslike produksies, ’n sportfees en ’n sterk klem op opvoeding.
 
 

SUID-AFRIKA

Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) het in 2007 uitsaailisensies aan vyf aansoekers toegeken. Ná ’n proses van bilaterale onderhandelings tussen Okosa en hierdie lisensiehouers sal spesifieke en algemene voorwaardes aan elke lisensie verbonde wees. Die uitreiking van individuele lisensies sal na verwagting in 2008 afgehandel word. Die proses om M-Net se uitsaailisensie in ooreenstemming te bring met die voorwaardes van die nuwe Wet op Elektroniese Kommunikasie behoort in 2009 afgehandel te word.

Die toetrede van hierdie nuwe mededingers het ’n skerp styging in die prys van inhoudsregte meegebring, en operateurs se marges vernou. Die koste vir die hernuwing van die sportregte van verskeie sportsoorte is hoog. Ons groep is tans die grootste befondser van sportligas op die vasteland van Afrika.

Die gelykstaande intekenaarbasis het met 178 000 tot 1,57 miljoen huishoudings toegeneem danksy goeie inhoud en ’n aantreklike sportpakket. Die goedkoper DStv Compact-boeket het tot 258 000 intekenare gegroei. ’n Middelprys-boeket, DStv Select, wat teen R139 per maand verkoop, is in Junie 2007 bekend gestel en die bekostigbare EasyView-boeket, teen R20 per maand, is ook herloods.

Die persoonlike video-opnemer (PVO) het steeds goeie groei getoon en die jaar op 242 000 intekenare afgesluit. ’n Hoëdefinisie-PVO sal binnekort beskikbaar wees.

MultiChoice het agt nuwe kanale bekend gestel, naamlik MagicWorld, Sony Entertainment, One Gospel, Animax, M-Net Stars, The Style Network, Trace TV en Nat Geo Wild. Nog toevoegings word beplan vir die jaar wat voorlê.

M-Net se programrooster is opgekikker met nuwe plaaslike produksies. The Coconuts (’n komediereeks); Ella Blue, Jacob’s Cross en Feast of the Uninvited (drama); Are you Smarter than a 5th Grader? (speletjiesprogram), asook die terugkeer van Deal or No Deal het die aantal kykers aansienlik laat styg. Binnelanders (sepie) vaar steeds goed na sy bekendstelling om die verlies van advertensie-inkomste teen te werk nadat M-Net se Oop Kyktyd in April 2007 verval het. Suid-Afrika se gewilde sepie Egoli is nou al in sy 17de jaar. M-Net was die eerste uitsaaier ter wêreld wat drie realiteitsprogramme gelyktydig vertoon het – Idols, Big Brother Africa en Survivor South Africa. Beide M-Net Series en
M-Net Action is goed gevestig, nadat hierdie kanale opgeknap is. kykNet het steeds op plaaslike dramas en realiteitsprogramme gefokus, terwyl Channel O jong musiekliefhebbers in 80 lande in Afrika bedien.

SuperSport het verskeie langtermyn-uitsaairegte bekom. Danksy SuperSport se ooreenkoms met die PSL het sokkerliefhebbers gedurende die 2007/2008- seisoen ’n plaaslike sokkerfees geniet: ongeveer 187 wedstryde is uitgesaai, vergeleke met sowat 76 wat in die 2006/2007-seisoen uitgesaai is voordat SuperSport die regte bekom het. Benewens SuperSport se eie uitsending, is ’n sublisensie aan die SABC toegestaan om ongeveer 90 wedstryde uit te saai, insluitend die groot kragmetings en eindstryde van kompetisies.

SuperSport se produksiespanne het ’n bedrywige jaar agter die rug, met uitgebreide dekking van vier wêreldbekers: die Rugbywêreldbeker, Krieketwêreldbeker, Twintig20 Krieketwêreldbeker en die Vrouesokkerwêreldbeker.

Die sportspanne waarin SuperSport ’n belang het, het redelik goed presteer: die Vrystaatse Cheetahs het die Curriebeker (rugby) gewen en die Haaie het naelskraap verloor in die eindstryd van die 2007 Super14-rugbykompetisie. SuperSport United het hul ondersteuners beloon deur die PSL Liga-titel vir 2008 in te palm.

MultiChoice se Phuthuma Nathi was met sy bekendstelling in 2006/2007 die grootste bemagtigingstransaksie in die mediasektor. MultiChoice bedryf ook verskeie opheffingsprojekte vir voorheen benadeeldes op gebiede soos voorkeuraankope, gemeenskapsontwikkeling en korporatiewe maatskaplike beleggingsinisiatiewe. MultiChoice is verbind tot ’n gesonde en veilige werkomgewing en doen steeds jaarlikse risiko- en voldoeningsoudits.

Verdere inligting oor MultiChoice se korporatiewe maatskaplike beleggings- en volhoubaarheidsinisiatiewe is beskikbaar by die webwerf (www.multichoice.co.za).

 
 
 
 
 
 
  Betaaltelevisie    
Terug na bo