MultiChoice Suid-Afrika het twee suksesvolle
bemagtigingstransaksies, Phuthuma Nathi en Phuthuma
Nathi 2, afgehandel. Hierdie transaksies is saamgestel om
werklik breedgebaseer te wees.
Sowat
120 000 swart persone
en groepe besit nou indirek aandele in MultiChoice
Suid-Afrika Beherend (Eiendoms) Beperk.
Personeeldeelname en -ontwikkeling
Ons erken dat diversiteit noodsaaklik is vir die volhoubaarheid van ons sake.
Ons filiale gebruik ’n verskeidenheid deelnemingstrukture ten opsigte van sake wat werknemers regstreeks en wesenlik raak, en is ontwerp om goeie werkgewer/werknemerverhoudinge te skep. Hulpmiddels is die doeltreffende verspreiding van toepaslike inligting, oorlegpleging en die oplossing van konflikte. Hierdie strukture omsluit doelwitte met betrekking tot produktiwiteit, loopbaansekuriteit, vereenselwiging met die groep en, waar van toepassing, plaaslike wetsvereistes.
Die groep fokus op diensbillikheidsteikens in sy Suid-Afrikaanse bedrywighede, insluitend die stel van spesifieke indiensnemingsteikens, mentorskappe vir voorheen benadeelde werknemers, die integrasie van liggaamlik gestremde persone, die bevordering van ’n omgewing wat vry is van diskriminasie teen vroue, en voorkeure ten opsigte van aankope. Diensbillikheidsteikens is in die sakeplanne van die Suid-Afrikaanse bedrywighede ingebou en prestasie word gemeet. Aandag word ook gegee aan spesifieke opleidingsbehoeftes vir geïdentifiseerde swart opvolgers.
Opvolgplanne vir senior bestuursposte word gereeld hersien.
Diens aan ons gemeenskappe
Die groep speel ’n aktiewe rol in die gemeenskappe wat hy dien. Ons fokus hoofsaaklik op geletterdheids- en opvoedkundige programme in Afrika. |