English Annual Report ►
 
Webtuistekaart ►
 
Aflaai ►
 
 
Korporatiewe bestuur en volhoubaarheid
   
  Korporatiewe bestuur en volhoubaarheid
     
 

RISIKOBESTUUR

As ’n internasionale multimediagroep met sakebedrywighede in verskeie lande, is die groep aan ’n wye verskeidenheid risiko’s blootgestel, waarvan sommige ernstige gevolge kan inhou.

Die gediversifiseerde aard van die groep help egter om risiko te versprei. Die identifisering van risiko’s en die bestuur daarvan is deel van elke sake-eenheid se sakeplan. Dit word jaarliks deur die direksie geëvalueer.

Verskeie maatskappye in die groep het spesifieke risikobestuursfunksies. Die oudit-en-risikobestuurskomitee hersien ook die risikobestuursproses.

’n Internetbeheer-toesigkomitee is op die been gebring na Naspers se deregistrasie van die SEC. Aangesien die groep steeds verbind is tot hoë standaarde van korporatiewe bestuur en in die besonder sterk internetbeheer- en risikobestuurstelsels, is erkenning verleen aan die behoefte aan so ’n forum om hierdie sake te monitor.

Uit ’n verskeidenheid verwante blootstellings blyk dit dat die volgende groot risiko’s tans bestaan:

Globale politieke en markverwikkelinge

Die Naspers-groep doen sake wêreldwyd in die media- en vermaaklikheidsbedryf met sy primêre notering op die JSE. Die groep se aansoek om die notering van sy ADA’s op die LSE was suksesvol. Gevolglik is die groep sensitief vir globale politieke en ander gebeure wat die wêreldekonomie of aandeelpryse kan beïnvloed.

Mededinging en tegniese innovasies

Die groep werk in intens mededingende en soms ontwikkelende markte. Tegnologie is ’n geïntegreerde deel van sy bedrywighede. Verskeie drukmediaprodukte kan weens internetmededinging krimp. Die groep wy beduidende hulpbronne aan die ontleding van ontluikende tendense in tegnologie en verbruikersbehoeftes en belê ruim in die ontwikkeling van nuwe produkte en dienste, maar kan hom misgis in sy ontledings, óf dit kan gebeur dat sy projekte nie suksesvol is nie.

Valutaskommelings

Die groep maak sy resultate bekend in Suid-Afrikaanse rand, waarvan die wisselkoers met betrekking tot ander geldeenhede kan verander. Hierbenewens het die groep in verskeie markte aansienlike insetkoste in buitelandse valuta. Die bewegings van hierdie buitelandse valuta kan ’n negatiewe of positiewe uitwerking op ons inkomste of uitgawes hê. Ongerealiseerde en gerealiseerde omrekeningswinste of -verliese kan die groep se finansiële rekeninge verwring. Dit is die groep se beleid om net sommige van sy valutaposisies te verskans.

Wetgewing en regulasies

In die algemeen is die mediabedryf in die meeste lande aan staatsregulasies onderhewig. Versuim met, of vertragings in, die verkryging of hernuwing van regulatoriese goedkeuring kan die beskikbaarheid van ons dienste beïnvloed. Die Naspers-groep strewe om aan toepaslike wette en regulasies te voldoen. Om dit te vermag, werk die groep saam met en beraadslaag met die onderskeie reguleerders in die lande waarin hy bedrywig is. Hierbenewens neem die groep deel aan die regulatoriese prosesse in die onderskeie gebiede, soms in samewerking met sakevennote wat plaaslike kundiges is.

Politieke en ekonomiese onstabiliteit

Politieke onstabiliteit in enige van die lande waarin die groep bedrywig is, kan ons skade berokken. Die groep onderneem ’n aanvanklike risikobeoordeling voordat hy nuwe gebiede betree en monitor die heersende risiko’s in die lande waarin hy sake doen.

Tegnologiese onderbrekings

Satellietonderbrekings: Die meeste van die groep se betaaltelevisiedienste word per satelliet aan intekenare gelewer. Satelliete kan beskadig of vernietig word, wat transmissie van dienste kan ontwrig. Sekere prosedures, wat wissel van rugsteunkapasiteit in sommige gevalle tot ingeboude oortolligheid, word gevolg om die beskikbaarheid van ons dienste te beveilig. Die koste van hierdie maatreëls word opgeweeg teen die waarskynlikheid dat die risiko sal gebeur en die moontlike uitwerking daarvan, en gevolglik bly satelliete in sommige gevalle onbeskerm of slegs deels beskerm.

Elektrisiteitsvoorsiening: Die produksie en verspreiding van die groep se produkte hang af van konstante en hoëgehalte-elektrisiteitsvoorsiening. Die ekonomiese groei van Suid-Afrika oor die kort termyn plaas druk op die beperkte elektrisiteitsbronne. Die groep het maatreëls getref om die impak van kragonderbrekings te verminder (bv deur kragopwekkers te installeer), maar uitgerekte kragonderbrekings sal ’n negatiewe uitwerking op inkomste hê.

Drukfasiliteite: Skade of onklaarheid in die drukkerye sal die sirkulasie van die drukmedia ontwrig en inkomste verminder. Hierdie risiko word net deels beperk deur versekeringsdekking en rugsteuning.

INTERNE BEHEERSTELSELS

Die maatskappy het ’n interne beheerstelsel, gegrond op die groep se beleid en riglyne, in alle wesenlike filiale, geassosieerdes en gesamentlike ondernemings onder sy beheer. Ten opsigte van entiteite waarin Naspers nie ’n beherende belang het nie, poog direkteure wat Naspers in daardie entiteite se direksies verteenwoordig om die versekering te kry dat beduidende risiko’s bestuur word en dat interne beheerstelsels doeltreffend is. Risikobestuurders en die interne ouditeure monitor die werking van die interne beheerstelsels en doen aanbevelings aan die bestuur en die oudit-en-risikobestuurskomitee. Eksterne ouditeure oorweeg elemente van die interne beheerstelsels as deel van hul oudit en meld geïdentifiseerde tekortkominge aan.

Alle interne beheerstelsels het egter tekortkominge, insluitend die moontlikheid van menslike foute en die ontduiking of verontagsaming van beheermaatreëls. Selfs die beste interne beheerstelsels kan ons slegs gedeeltelike gerusstelling bied. Die groep se interne beheerstelsels is ontwerp om redelike – nie absolute nie – gerusstelling oor die integriteit en betroubaarheid van die finansiële state te gee; om rekenpligtigheid van sy bates te beveilig, te verifieer en te handhaaf; en om bedrog, potensiële aanspreeklikheid, verlies en wesenlike wanvoorstelling op te spoor, terwyl die toepaslike wette en regulasies nagekom word. Die werk wat gedurende die jaar geëindig 31 Maart 2007 ter voldoening aan die Sarbanes-Oxley-artikel 404 gedoen is, het die interne beheeromgewing verder versterk.

Die groep het sy interne beheerstelsels op 31 Maart 2008 geëvalueer met betrekking tot finansiële verslagdoening en die beveiliging van bates teen ongemagtigde aankope, gebruik of verkope. In die jaar onder oorsig het die interne beheerstelsel geen beduidende gebreke in interne beheer getoon nie.

INTERNE OUDIT

’n Interne ouditfunksie bestaan in die hele groep en is ’n onafhanklike evalueringsmeganisme wat die groep se prosedures en stelsels (insluitend interne beheermaatreëls, openbaarmakingsprosedures en inligtingstelsels) evalueer en verseker dat dit doeltreffend funksioneer. Die hoof van interne oudit doen verslag aan die voorsitter van Naspers se oudit-en-risikobestuurskomitee, met administratiewe rapportering aan die finansiële direkteur. Die jaarlikse interne ouditplan vir 31 Maart 2008, soos goedgekeur deur die oudit-en-risikobestuurskomitee, het gefokus op die verskaffing van bevestiging oor die doeltreffendheid van interne beheer oor finansiële verslagdoening. Die interne ouditveldwerk word na een van die groot ouditeursfirmas uitgekontrakteer.

VERHOUDINGE MET AANDEELHOUERS

Die maatskappy bly in gesprek met sy belangrikste finansiële gehore, veral institusionele aandeelhouers en ontleders. Die afdeling vir beleggersverhoudinge bestuur die wisselwerking met hierdie gehore en voorleggings vind na die publikasie van tussentydse en eindresultate plaas.

Die maatskappy se webwerf (www.naspers.com) verskaf die jongste en historiese finansiële en ander inligting, insluitend finansiële verslae. Die direksie moedig aandeelhouers aan om sy algemene jaarvergadering, waarvan die kennisgewing in hierdie jaarverslag vervat is, by te woon. Daar is geleentheid om vrae aan die direksie, bestuur en die voorsitters van die onderskeie direksie-subkomitees te stel.

 
 
 
  Korporatiewe bestuur en volhoubaarheid    
Terug na bo