English Annual Report ►
 
Webtuistekaart ►
 
Aflaai ►
 
 
Korporatiewe bestuur en volhoubaarheid
   
  Korporatiewe bestuur en volhoubaarheid
     
 

DIE DIREKSIE

Samestelling

Die besonderhede van die direkteure op 31 Maart 2008 word hier van hierdie jaarverslag uiteengesit.

Naspers het ’n unitêre direksiestruktuur wat ’n toesighoudende sowel as ’n kontrolerende funksie vervul. Die direksie het ’n reglement wat ’n duidelike verdeling van verantwoordelikhede aandui. Die meerderheid direksielede is nie-uitvoerende direkteure wat onafhanklik van bestuur staan om te verseker dat niemand oor onbeperkte besluitnemingsmag en -gesag beskik nie. Dit verseker dat aandeelhouersbelange beskerm word. Hierbenewens is die rolle van die voorsitter en besturende direkteur geskei om ’n duidelik omskrewe verdeling van verantwoordelikhede te verseker. In dié boekjaar was ’n waarnemende uitvoerende hoof aan die stuur. Na die jaareinde is mnr Koos Bekker weer as uitvoerende hoof en besturende direkteur in die direksie aangestel. Mnr Boetie van Zyl is die leidende direkteur in alle sake wat nie deur die onafhanklike nie-uitvoerende voorsitter gehanteer word nie.

Op 31 Maart 2008 het die direksie uit tien onafhanklike, nie-uitvoerende direkteure en een uitvoerende direkteur bestaan, soos omskryf in die noteringsvereistes van die JSE. Vyf direkteure (45%) kom uit voorheen benadeelde groepe, en twee direkteure (18%) is vroue. Hierdie syfers is bogemiddeld vir JSE-genoteerde maatskappye.

Die voorsitter

Die voorsitter is ’n onafhanklike, nie-uitvoerende direkteur. Hy gee leiding aan die direksie in die geheel en verseker dat die direksie doeltreffend, gefokus en as ’n eenheid werk. Hy tree as fasiliteerder by direksievergaderings op om ’n vloei van menings te verseker en poog om, in belang van goeie bestuur, besprekings tot optimale resultate te lei. Hy verteenwoordig die direksie in eksterne kommunikasie, in oorleg met die besturende direkteur en die finansiële direkteur.

Die besturende direkteur

Die besturende direkteur doen verslag aan die direksie en is verantwoordelik vir die daaglikse bedryf van die groep en die uitvoer van beleid en strategieë wat deur die direksie goedgekeur is. Uitvoerende hoofde van die onderskeie sakeondernemings help met hierdie taak. Gesag wat deur die direksie aan die bestuur toegesê is, word deur die besturende direkteur in ooreenstemming met goedgekeurde gesagsvlakke gedelegeer.

Aanstellings in die direksie

Die direksie het ’n beleid aanvaar oor prosedures vir die aanstelling en oriëntering van direkteure. Die nominasiekomitee beoordeel van tyd tot tyd die vaardighede van nie-uitvoerende direkteure in die direksie en besluit of daardie vaardighede aan die maatskappy se behoeftes voldoen. Jaarlikse selfbeoordelings deur die direksie en sy subkomitees help ook hiermee. Direkteure word uitgenooi om te help met die identifisering van potensiële kandidate. Die lede van die nominasiekomitee, wat almal onafhanklik is, stel geskikte kandidate vir oorweging deur die direksie voor. ’n Evaluering oor die geskiktheid en gepastheid van elke kandidaat word gedoen.

Uittrede en herkiesing van direkteure

Alle nie-uitvoerende direkteure is elke drie jaar onderhewig aan uittrede en herverkiesing deur aandeelhouers. Voorts is alle nie-uitvoerende direkteure in die geval van ’n tussentydse aanstelling onderhewig aan verkiesing deur aandeelhouers, by die eerste gepaste geleentheid. Die name van nie-uitvoerende direkteure wat vir verkiesing of herverkiesing voorgelê word, word vergesel van verkorte biografiese besonderhede (sien bladsye 52 en 53 van hierdie jaarverslag) om aandeelhouers in staat te stel om ’n ingeligte besluit oor hul verkiesing te neem. Die heraanstelling van nie-uitvoerende direkteure geskied nie outomaties nie.

Oriëntering en ontwikkeling

Daar is ’n induksieprogram vir nuwe lede van die direksie en van sleutelkomitees, wat spesifiek aangepas word by die behoeftes van die aangestelde individue. Die program behels bedryf- en maatskappyspesifieke oriëntering, insluitend vergaderings met senior bestuur soos toepaslik, om ’n begrip van bedrywighede te verseker. Direksielede word ook blootgestel aan die hoofmarkte waarin die groep bedrywig is. Die maatskappy-sekretaris help die voorsitter met die induksie en oriëntering van direkteure, en reël spesifieke opleiding, indien nodig.

Die maatskappy is ook verbind tot die voortgesette ontwikkeling van direkteure om hulle te help om hul kundigheid uit te brei en begrip van die ondernemings en die hoofmarkte waarby die groep betrokke is, te ontwikkel.

Botsings van belange

Naspers het ’n amptelike kode aanvaar oor die bestuur van potensiële botsings van belange. Dit verseker dat kandidaatdirekteure en bestaande direkteure geen belangebotsings tussen hul verpligtinge teenoor die maatskappy en hul private sake het nie. Enige belang in kontrakte met die maatskappy moet amptelik openbaar gemaak en gedokumenteer word. Direkteure moet ook by ’n amptelike beleid hou ten opsigte van die verhandeling van sekuriteite van die maatskappy en sy genoteerde filiale.

Onafhanklike advies

Individuele direkteure mag, in oorleg met die voorsitter of die besturende direkteur, op die maatskappy se koste onafhanklike professionele advies inwin oor enige saak wat verband hou met die uitvoering van hul pligte as direkteure.


Rol en funksie van die direksie

Die direksie het ’n reglement aanvaar waarin sy verantwoordelikhede uiteengesit word. Buiten ander verpligtinge moet die direksie:
  • die maatskappy se missie bepaal, strategiese leiding aan die maatskappy verskaf en verantwoordelikheid dra vir die aanvaarding van strategiese planne en die toepassing van waardes ter ondersteuning daarvan
  • die jaarlikse sakeplan en die begroting wat deur die bestuur opgestel is, evalueer en goedkeur
  • volle en effektiewe beheer oor die maatskappy behou, en bestuur monitor met betrekking tot die uitvoering van die goedgekeurde jaarlikse begroting en sakeplan
  • die besturende direkteur of uitvoerende hoof aanstel, wat aan die direksie verslag doen, en toesien dat opvolging beplan word
  • die maatskappy se finansiële state, tussentydse en voorlopige verslae goedkeur, en verantwoordelikheid dra vir die integriteit en aanbieding daarvan
  • die maatskappy en die groep se lewensvatbaarheid op 'n lopendesaak-grondslag evalueer
  • die maatskappy se kommunikasiebeleid vasstel
  • die keuring, oriëntering en evaluering van direkteure bepaal
  • toesien dat die maatskappy toepaslike prosedures vir risikobestuur, interne beheer en regulatoriese nakoming volg en toereikend met aandeelhouers en ander belanghebbendes kommunikeer
  • direksie-subkomitees met duidelike opdragte en verantwoordelikhede stig, soos toepaslik
  • die gesagstruktuur vir spesifieke sake bepaal, en die vereiste vlakke van gesag aan die direksie se subkomitees en bestuur delegeer
  • nie-finansiële aspekte rakende die maatskappy se sake monitor
  • die betaling van dividende aan aandeelhouers oorweeg en, indien toepaslik, verklaar, en
  • die prestasie en doeltreffendheid van die direksie en sy subkomitees gereeld evalueer.
 

Direksievergaderings en -bywoning

Die direksie vergader gereeld, minstens elke kwartaal, asook wanneer spesifieke omstandighede dit vereis. Die dagbestuur/ uitvoerende komitee skenk aandag aan dringende sake wat nie tot die volgende vergadering kan wag nie, soos deur die direksie gedelegeer. Die direksie het die afgelope boekjaar vyf keer vergader. Die onafhanklike nie-uitvoerende direkteure vergader minstens een keer per jaar sonder die besturende direkteur, finansiële direkteur en voorsitter om die prestasie van hierdie individue te bespreek.

Die maatskappysekretaris tree as sekretaris vir die direksie en sy subkomitees op en woon alle vergaderings by. Besonderhede van bywoning van die vergaderings is ingesluit in die tabel op bladsy 54 van hierdie jaarverslag.

 
 
  Korporatiewe bestuur en volhoubaarheid    
Terug na bo