|
||||||
Operasioneel het ons goeie vordering gemaak om plaaslike inhoud en vaardighede in belangrike betaaltelevisie-markte soos Suid-Afrika en Nigerië te verhoog (hier). ’n Belangrike ontwikkeling is dat Naspers in lande met opvoedkundige uitdagings die omvang van sy opvoedkundige en geletterdheidsinisiatiewe bestendig uitgebrei het. Ons ondersteun ook die ontwikkeling van industrieë met potensiaal om werk te skep en vaardighede te ontwikkel, soos die rolprentbedryf en joernalistiek. Die MIH Media Lab borg topstudente vir nagraadse studie op die gebied van nuwe media – hierdie program bevorder die ontwikkeling van entrepreneurs en brei die talentpoel uit. Elektriese krag is duidelik van deurslaggewende belang vir hierdie inisiatiewe en in lande waar voorsiening in die gedrang kom, het ons alternatiewe kragbronne verkry. |
BESTUURSTOESIG
Bestuurstoesig en volhoubaarheid is noodsaaklik vir ons belanghebbendes. Die direksie bedryf die groep se sake met integriteit, deur die toepassing van geskikte korporatiewe bestuurstoesigbeleid en -praktyke in elke maatskappy in die groep.
Verskeie filiale van Naspers word deur onafhanklike direksies beheer, wat almal hul eie bestuurstoesigpraktyke en subkomitees het wat aan die nodige bestuurstoesig- en regulatoriese vereistes voldoen. ’n Gedissiplineerde rapporteringstruktuur verseker dat die beheermaatskappy se direksie kennis dra van filiale se bedrywighede, risiko’s en geleenthede.
Gedetailleerde strategieë en sakeplanne word deurentyd hersien, en dek die finansiële en nie-finansiële elemente van elke maatskappy se besigheid, en prestasie teenoor teikens is die grondslag van bestuur se vergoeding.
Naspers evalueer deurentyd gebiede waar bestuurstoesig op korporatiewe vlak en by filiale versterk kan word. Die impak van die nuwe Maatskappywet in Suid-Afrika, asook die King III-kode oor korporatiewe bestuurstoesig, was die afgelope jaar ’n fokuspunt.
Die direksie het in 2009 ’n plan vir die toepassing van King III in al ons internasionale ondernemings goedgekeur. Goeie vordering is gemaak en die omvang van die toepassing van King III binne die bestuurstoesig-raamwerk van Naspers, MIH, MultiChoice en Media24 word op hier van hierdie verslag beskryf.


